Op Donderdag 22 Oktober kom vriende en ondersteuners van Huis Jabes by Eureka in Durbanville bymekaar vir ’n besondere aand ten bate van Huis Jabes. Met die tema Omgee bring genesing beloof die Huis Jabes Dinee ’n besondere aand van lekker saamkuier, goeie kos en vermaak, alles vir ’n belangrike doel. Gaste kan uitsien na ’n heerlike driegangmaaltyd, ’n kontantkroeg en ’n opwindende veiling.
Danie Reënwolf sal vir die aand se musiek en vermaak sorg en beloof om iets besonders tot die geleentheid by te dra. Ons sien ook uit daarna om bekende gesigte soos Andries Vermeulen, Wicus van der Merwe, Hunter Kennedy, Leah en Therese Bam te verwelkom, wat die aand saam met ons gaan geniet en hul ondersteuning aan Huis Jabes wys.

Maar agter die lekker saamkuier lê ’n belangrike doel. Die aand bring mense bymekaar om die werk van Huis Jabes te ondersteun en ’n betekenisvolle verskil te maak in die lewens van vroue en kinders wat deur huishoudelike geweld geraak word. Ons sien uit daarna om hierdie besondere aand saam met ons vriende en ondersteuners te geniet. Omgee is meer as om bewus te wees. Omgee vra dat ons iets doen.
Baie dankie aan elkeen wat deur hul betrokkenheid en bydraes help om hierdie aand moontlik te maak.
Met waardering
Adri Klindt



